"Net 'n bietjie liefde!"
Eis die kleinste strompelaar;
En eis hiermee die hoogste
Wat 'n sterfling kan ervaar
(koor)
Vra alles behalwe die hoogste
Want liefde gevra is te veel
Vir eindige mensies soos ons is
Is liefde gevra eens te veel
"Net 'n bietjie liefde!"
Is die bakvis se versoek;
Maar weet nie dat sy end-uit
Na hierdie droom gaan soek
(koor)
"Net 'n bietjie liefde!"
Roep die digter radeloos
Want sonder hierdie dryfkrag
Is sy versies waardeloos
"Net 'n bietjie liefde?"
Sug die huisvrou na haar dag
(Vermoed dat sy 'n leeftyd
Op dié wonder gaan bly wag.)
"Net 'n bietjie liefde?"
Huil die ou vrou sy's terminaal;
En weet dat sy daarsonder
Die laaste grens moet haal
Mensekinders, almal
Kleuter, digter, swaar bejaarde
Vra rykdom, roem, gesondheid
Vra blinkgeod uit die aarde
Vra alles wat die gode bied
Die wyn, die vrou, die lied -
Vra alles behalwe die hoogste
Want liefde gevra is te veel
Vra alles behalwe die liefde
Want liefde gevra is te veel